>Oordenking
Vervul jou roeping, want jy bou 'n katedraal!
Skrifgedeelte: 1 Korintiërs 10:23-31
Die boukontrakteur het sy werksmense oor hulle werk by die bouperseel uitgevra. Elkeen het sy kruiwa gestoot. Hy het drie verskillende reaksies gekry:
Die eerste reaksie: "Ek probeer om tog net Vrydag te haal!" Die antwoord dui op 'n gesindheid dat die werker sy werk as swaarkry beleef en beskou. Hy wil tog net Vrydag haal en klaarkry. Hierdie houding berus op 'n uitgangspunt dat werk 'n vloek is. Dit is verkeerd, want werk is nie 'n vloek nie. Werk was met die skepping reeds daar, vóór die sondeval. (Gen. 1:28, 2:5, 8 18)
Die tweede reaksie: "Ek werk vir die geld wat ek hier kry!" Die woorde dui op 'n gesindheid dat mense net werk vir wat hulle daaruit kan kry. Dié soort werker vergeet dat die mens geskape is om beslis ook te rus. Boonop is ons nie gemaak om nié ons werk te geniet en altyd net te swoeg en besig te wees nie, maar om God te vereer, ook in ons arbeid.
Die derde reaksie: "Ek bou 'n katedraal!" Dié werker sien die prentjie in 'n wyer perspektief. Hy sien dat dit wat hy bou, 'n ruimte word waar mense God sal aanbid. Die werk waarmee hy besig is, gaan letterlik om die heil van mense en die eer van God. Dit is die regte perspektief op arbeid. Ons word opgeroep om alles tot God se eer te doen (1 Kor 10:31): "Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen dit tot eer van God." Die uitspraak geld ook ons werk.
"Ek bou 'n katedraal!" Met dié woorde het die derde werker sy werk as 'n roeping gesien. Roeping is 'n doen-woord, 'n werk-woord. Wat dus belangriker is as dat roeping deel van ons woordeskat is, is dat dit deel van ons lewenshouding, van ons biografie moet wees.
Dr. PW Bingle (Emeritus)
Bron: Almanak 2008 van die Gereformeerde Kerke in SA.